Hermiet
Hermiet
(‘n Lukrake
troefkaart uit die groter arkana)
Kyk op na
die berge en wonder of dit stil is daar bo want hier onder in die klowe eggo klinkende
metaal en luidende simbale en
ander kakofoniese byprodukte van die morsige middelgang en selfs in die
katedrale van stille afsondering, filter gefragmenteerde en repeterende
gespreksgrepe deur gebrandskilderde filters van vriendskap en jy sal vergeefs
soos Moses staf-in-die-lug al hierdie Dinge uit mekaar probeer hou, want die
klank sal net verder bots en koggel met die uithouvermoë van irrasionele
nommers en selfs meer irrasionele woorde; jy sal ook vergeefs die stilte prober raaklees
tussen die lyne en die woorde, die spasies, kommas en punte waarbinne jy
ontsyfer en ontleed aan ‘n ononderbroke morsekode .. ….;. …;.. ,. . , … . en
selfs al sal jy jou staf en lamp optel en jou gedagtes vel-af stap op die pelgrimstog
van insomnia, sal dit nie help nie, want met dagbreek sal jy dieselfde bed
opmaak waarin jy reeds weet jy vanaand
weer gaan slaap.
Comments
Post a Comment